Your browser version is outdated. We recommend that you update your browser to the latest version.

Wie is ons?

SHAMA is 'n Christelike retraite sentrum wat besit en bestuur word deur die Shama Trust. Die Trust is 'n interkerklike trust wat gestig is met die doel om die sentrum tot stand te bring en te bestuur.

Die retraite leiers is Deon en Annalize Loots. 

Die DOEL van die sentrum is om 'n plek en ruimte te verskaf aan kinders van die Here wat die behoefte het:

  • om stil te word om duidelikheid te kry oor God se wil vir hulle lewe;
  • om te kom rus en te herstel na uitbranding of 'n moeilike tyd in die bediening.
  • Om in te skakel by een van die retraites wat gereeld by die sentrum aangebied word.

Ons hooffokus is om ''n ruimte van stilte te skep waar mense sonder enige onderbreking net na God kan luister en op Hom kan fokus. Daarom vind al ons retraites (met enkele uitsonderings waar ook lering gegee word), in algehele stilte plaas. Niemand word toegelaat om met ander retraite gangers of met ons te gesels nie. Die riglyne vir die retraite word met die aanvang van die retraite gegee waar alles in detail verduidelik word. Daar is ook geleentheid vir vrae. Die res van die program word dan volledig in die vorm van notas voorsien. Al wat nodig is, is om die riglyne op die notas te volg. 

Dit blyk dat daar wel mense is wat dit graag anders sou wou hê en wel geleentheid vir gesprek verkies. Ons voel egter dat daar genoeg geestelike kampe, retraites en konferensies aangebied word, waar daardie behoefte vervul kan word. Ons wil graag spesifiek vir mense wat die behoefte het om in algehele stilte met God tyd te spandeer, sonder die vrees dat hulle uitgevra sal word, met ander hoef te gesels oor hulle lewens, of dat hulle ander se vrae moet beantwoord, die geleentheid gee om dit te kan doen. 

 

 Geloofs oortuiging

 Die trust is gebaseer op 'n Christelike lewens- en wêreld beskouing wat die volgende glo en aanvaar:

  • Ons glo dat die getuienis van die Bybel vir ons die pad wys na 'n lewe tot eer van God, wat dan ook lei tot 'n sinvolle en betekenisvolle lewe.
  • Ons glo dat die mens geskep is as verteenwoordiger van God, wat op die aarde geplaas is met die doel om God se Naam groot te maak, van diens te wees in God se koninkryk en om in gehoorsaamheid aan God, sy wil uit te leef.
  • Ons glo dat die mens geskep is met die doel om in gemeenskap met God te leef en om vanuit die volheid en oorvloed van God se goedheid en liefde as Bron van dag tot dag te leef.
  • Ons glo dat mense na die skepping toegegee het aan die versoeking om van God se doel af te wyk en gekies het om eerder hulle eie naam groot te maak, hulle eie koninkryk te bou en hulle eie wil te doen.
  • Ons glo dat hierdie afwyking aanleiding gegee het daartoe dat die mens kontak verloor het met God en daarom geskei is van God as Bron van alle goedheid, liefde, wysheid en insig.
  • Ons glo dat hierdie afwyking van God se bedoeling aanleiding gee tot 'n ongesonde vergelyking en kompetisie tussen mense, wat weer aanleiding gee tot jaloesie, afguns, wedywering, rusies, konflik, woede, korrupsie, haat, seerkry, pyn, ens.
  • Ons glo dat die Bybel geskryf is met die doel om vir ons nou die pad terug te wys na gemeenskap met God, waar ons weer kan leer om vanuit God as Bron te leef sodat ons weer lewens van betekenis kan leef.
  • Ons glo dat Jesus Christus sentraal staan in die aanwys van hierdie pad. Hy het die weg na God toe vir ons kom wys, kom demonstreer hoe ons kan leef as verteenwoordigers van God, en ook self die Weg geword deur wie ons tot God kan nader. 
  • Ons glo dat mense se lewens net betekenis kry as hulle terugdraai na God toe en begin om sy Naam groot te maak, om onder sy heerskappy en leiding in sy koninkryk diens te doen en as hulle in gehoorsaamheid aan sy wil leef.

Enige persoon, ongeag van geloofsoortuiging, is egter welkom om ons te besoek. Dit is egter belangrik dat besoekers sal verstaan dat ons vanuit bogenoemde geloofsraamwerk opereer.

 

Shama se storie

Die droom om 'n retraitesentrum tot stand te bring, is tydens 'n besoek aan Egipte in 1996 gebore. Ek het mettertyd die droom met mense begin deel wat besig was met die dissipelskap-program. Dit het gebeur net 'n paar jaar nadat die Here my oortuig het om in my bediening te fokus op die maak van dissipels. Aanvanklik het ek net een dissipelskapgroep onder die studente gehad (ek was op daardie stadium studenteleraar in Port Elizabeth). Binne 'n paar jaar, het daar al heelwat groepe ontstaan en het die program aanhou groei. 

Deel van ons dissipelskap-program was om gereelde retraites met die groepe te doen. Op daardie stadium was dit egter baie moeilik om geskikte fasiliteite hiervoor te kry. Daar is baie kampterreine oral oor die land, maar nie baie retraitesentrums nie. Op ’n kampterrein kan dit maar raserig wees, dit pla nie regtig nie. ’n Retraitesentrum moet op ’n plek wees waar jy die stilte kan hoor. Op ’n kampterrein druk mens maklik 20 mense in een kamer in en almal moet maar die snorkery verduur. By ’n retraitesentrum wil mens graag hê dat elke persoon ’n enkelkamer moet hê waar hulle regtig kan stil word en rus. 

Ons wou ook nie sommer maar net ’n afskeepplekkie oprig nie. Ons wou die Here vertrou om die fondse te voorsien sodat ons ’n plek kan inrig wat werklik ’n basis kan wees waar mense kan kom luister na God en genesing kan ontvang van die Groot Geneesheer.  

Ek het dus na ons besoek aan Egipte hierdie droom met 'n klompie van die mense wat besig was met die dissipelskapprogram gedeel. Dit het dadelik byval gevind en heelwat mense het saam met my hieroor begin droom. Ons droom was dus om ’n plek te ontwikkel waar mense wat die behoefte het, werklik kan kom stil word en luister na God. ’n Plek waar mense in sy teenwoordigheid kan kom en tyd met Hom spandeer. Wanneer dit gebeur, weet ons nou al, vind daar altyd genesing en herstel plaas.

Vir 'n hele aantal jare het dit maar net 'n droom gebly. Lekker om daaraan te dink en daaroor te droom, maar ek het self baie gewonder hoe dit ooit 'n werklikheid kan word. Ek het immers nie die geld gehad om so iets op te rig nie. 

In daardie tyd het ons ook op 'n gereelde basis vriende van ons in Egipte besoek. Baie Suid-Afrikaners wat in Egipte betrokke is op een of ander manier, ken vir Magdi en Annalise Saber wat ook 'n retraitesentrum aan die rand van die woestyn by Wadi El Natrun ontwikkel het. Hulle doel was wel anders as ons s'n. Hulle het ook konferensie fasiliteite vir groter groepe ontwikkel. Met een so 'n besoek aan hulle, vra ek toe vir Magdi hoe hulle dit alles regkry, wetende dat hy ook nie iemand is wat self die fondse daarvoor het nie. Sy antwoord was baie eenvoudig en direk. Sonder om lank daaroor te dink, het hy vir my gesê: "You see brother, we have a vision".  Dit was al. Dit was asof die Here vir my bemoedig het met die gedagte dat as 'n visie van Hom af kom, dan is dit al wat nodig is om te weet. Hy sal vir die res voorsien. Weer het dit in Egipte gebeur, waar die visie oorspronklik gebore is. 

Op Dinsdagaand 23 November 2004, na 'n dissipelskapgroep sessie gee iemand vir my 'n koevert in die hand met die woorde: "Deon, dit is vir die retraitesentrum". Dit was al agt jare na die droom gebore is. Toe ek by die huis kom en die koevert oopmaak, was dit 'n kontant tjek vir R1000. Ek was so effe onkant gevang en gewonder: "Wat nou? Waarheen gaan ek met die geld?" Ons het nog niks gehad nie. Nie 'n rekening vir die doel nie. Niks was eintlik nog in plek nie. Ek het daaroor gaan stil word en dit was asof die Here vir my sê: "Deon, jy moet aan die gang kom. Hierdie moenie net 'n droom bly nie. Jy moet begin beweeg!" 

Ek het vir verdere leiding gevra en die Here het dit op my hart gelê om 'n nie-winsgewende trust te stig. Ek het met God se leiding 'n paar vriende wat almal baie betrokke was in die dissipelskapprogram genooi om saam met my die trust te vorm en te dien as Trustees. Ons het ook 'n vriend wat in die regsberoep is genader om te help met die opstel van die Trust-akte. Die akte spel uit dat geen van die trustees enige finansiële voordeel uit die trust mag kry nie. Alle wins wat daar in die toekoms mag wees, gaan terug in die verdere ontwikkeling van die sentrum.

Die trust is uiteindelik in Junie 2005 geregistreer en ons was so gelukkig om die rekening van die trust te kon open met die bedrag van R19 000.00.  Die bedrag was afkomstig van drie persone wat bydraes gemaak het vir die retraitesentrum. Hierdie skenkings van mense wat nie van mekaar geweet het nie, was vir ons verderee bevestiging dat hierdie droom van God self kom en dat Hy daarom ook die fondse sal voorsien vir die ontwikkeling van die sentrum. 

Daar is besluit op die naam Shama vir die Tustfonds en die sentrum: Shâmà (Hebreeus vir luister) na aanleiding van die teks in Deut 6:4 “Hoor Israel, die Here ons God is ’n enige Here” (OAV).  Die teks staan onder die Jode bekend as die “Shâmà”.  Dit is ’n oproep tot God se kinders om na Hom te luister en om Hom te gehoorsaam 

Die mees basiese betekenis van die woord is om intelligent te luister, sodat die kennis wat opgedoen word, wysheid word. Die woord impleseer ook om gelei te word en te handel deur wysheid. Dit gaan dus nie net oor passiewe luister nie, maar om te hoor en te gehoorsaam.

Na agt jaar van net droom oor 'n moontlike retraitesentrum, het daar nou dinge begin gebeur. God het immers gewys dat ons in beweging moet kom. Ons (trustees) het dus in gehoorsaamheid begin soek na 'n geskikte terrein of plek waar die sentrum opgerig kan word. Die belangrikste vereistes vir so 'n plek was stilte en afsondering. 'n Plek waar daar verkieslik geen selfoon ontvangs is nie. 

Ons het ses verskillende plekke gaan besoek en elke keer was daar iets wat net nie "reg gevoel" of met ons resoneer het nie. Die 27ste Mei 2007 het Irma (my oorlede vrou) een oggend vir my 'n plekkie gewys wat in die koerant adverteer word. Dit was gedeelte 14 van die plaas Trompfontein, naby Steytlerville, net aan die buitekant van die Baviaanskloof. Ek het die persoon wat dit adverteer het, gebel en 'n afspraak gemaak sodat ons kan gaan kyk na die plek. Dit was in die mark vir R700 000 rand. Ons het op daardie stadium al R65 000 in die rekening gehad, so nog nie naastenby genoeg nie. Ons doen egter alles in die geloof dat God wel kan voorsien, want "you see, we had a vision!"  

Donderdag 30 Mei word ek o.a. met Ps. 81 stil in my stilword tyd die oggend. Daar is veral twee verse wat vir my uistaan. 

“Julle mag voor geen vreemde god neerbuig nie. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee.” (:11). 

Ek het dit nie daardie oggend direk in verband gebring met die retraitesentrum nie, maar dit het later vir my duidelik geword dat dit baie van toepassing was op alles wat die Here besig was om te doen. 

Dan ook vers 17: “Maar vir julle sal Hy voed met die beste koring, julle versadig met heuning uit `n rots.” 

Die 1ste Junie 2007 (11 jaar na die geboorte van die droom), het drie van ons trustees, ekself (Deon), Willem Oelofsen, Henry Wissink en sy vrou Karen, uitgery om te gaan kyk na die plek. Wat myself die eerste opgeval het was juis dit stilte en afsondering van die plek. Ons was almal dadelik opgewonde oor die potensiaal wat ons gesien het. Ons het egter nie die vrymoedigheid gehad om enigsins 'n aanbod te maak nie. Hoe betaal mens R700 000 as jy net R65 000 het? (Die eienaar het later ingestem om die bedrag af te bring na R650 000 toe). So ons het net mooi 'n tiende gehad. 

Die man wat die plek vir ons gewys het, vra toe wat ons in gedagte het. Hy het gehoor hoe ons praat en ons opgewondenheid gesien. Selfs toe ons later groet het nog nie een van ons die moed gehad om vir hom te sê dat ons ernstig belang stel nie. Hy vra toe uit die bloute vir ons of ons nie sal belang stel om 'n opsie op die plek te neem nie. Hy bied toe aan om vir ons 'n opsie tot die Maandag 12 uur te gee. Dit was soos 'n gedagte uit die hemel. Hoekom het ons nie self daaraan gedink nie?! 

Nog iets wat 'n groot bonus was, was die feit dat daar 'n baie sterk fontein op die grond was. Die dorp se munisipaliteit het egter daar 'n baie diep boorgat geboor om water van die plaas af dorp toe te pomp. Daar was dus alreeds water en krag op die grond. Op enige ander plek sou dit 'n baie groot uitgawe kon vereis om water en krag te kan kry op 'n afgeleë stukkie grond. 

Op pad terug na PE toe, het ons opgewonde gesels oor die potensiaal van die plek. Ons het ook gesels oor moontlikhede om die geld as 'n lening te kan bekom en baie gewonder wie moontlik vir ons so 'n bedrag as 'n lening sal gee. Ons het immers geweet dat ons nie vir so iets 'n lening by 'n bank sal kan kry nie. 

Hiervandaan laat ek vir Karen verder vertel. Sy het die gebeure baie intens en besonders beleef en het 'n wonderlike getuienis daaroor. 

Karen se getuienis: 

 

'N ROOI SEE ERVARING IN 2007

soos beleef deur Henry en Karen Wissink

GOD SE WERKING RONDOM SY WIL - LAAT ONS MET VERWONDERING....

Hoe neem 'n mens 'n “snapshot” van God se werking?

Hoe vat mens dit vas?                                                                                       

Mens kan eenvoudig nie, want God is net TE GROOT…

Sy werking hierin ook TE GROOT... 

God en die mens...

God teenoor die mens...

Die mens wat Hy só omvattend liefhet. 

Al wat ons kan doen is om te vertel met woorde; te getuig met harte wat klop van opwinding; harte wat oorloop van ongekende verwondering oor die “wat” en die “hoe” wat die Here self gebruik het om die “foto” saam te stel – een van baie wat Hy beplan om in Sy album van die oprigting van Shama Retraitesentrum vir ons, Sy kinders, te sit. 

Met die terugkeer van die 4 verspieders – Deon Loots, Oom Willem Oelofsen, Henry Wissink en ek, Karen - wat Vrydag, 01 Junie 2007 die moontlikheid van die land van Kanaan ( die beoogde land vir die Retraite Sentrum ) gaan ondersoek het, was die een vraag in my gemoed: “Hoe sal ons weet dat dit die plek is wat U wil hê Here?” Met die skryf hiervan in my joernaal was die antwoord eenvoudig, “...deurdat ek voorsien, My Kind.” Ons is weg by Oom John Coleske met die manne wat besluit om 'n opsie op die plaas te neem, want dit is darem so ideaal. Teen 12h00 Maandag 4 Junie moet Deon laat weet Ja of Nee. Voor dan moet daar R650 000 beskikbaar wees, met R65 000 in die trust...   

Terwyl ek Saterdagoggend my gereed maak om 'n “Kitchen Tea” by te woon, sif ek deur al die opsies wat die manne oppad terug van Steytlerville op die tafel gelê het, en bly ek wonder hoe die Here gaan voorsien. So vra ek binne die onsekerheid, effens moedeloos, maar meer vanuit die oogpunt van nog  'n moontlikheid, vir die Here of ek nie maar soos Gideon kan wees nie en ook 'n vliesie kan uitsit nie? Die "vliesie" was die volgende: 

As my broer Neil binne die volgende 2 dae vir ons bel en uitvra na die retraitesentrum dan weet ons die Here wys Trompfontein aan as die plek waar Hy “Shama Retraitesentrum” wil hê en dan sal ons weet dat Hy sal voorsien.(Ons het onlangs in Dissipelskap weer gekyk na die storie van Gideon) In skaamte moet ek erken dat ek nie baie ernstig hieroor was nie, omdat ek mos nou al mooi groot is en weet dat ons geloof in God moet wees en nie in tekens nie, en mens “bargain” mos nie met die Here nie. 

Laat ek eers meer omtrent Neil vertel om die aard van my “vliesie” te verduidelik. Hy woon in Mafikeng. Nadat hy laasjaar met dissipelskap begin het, en in September 2006 die eerste dissipelskap retraite bygewoon het, het hy met Henry gedeel dat hy regtig gelei voel om by te dra tot die totstandkoming van so 'nretraitesentrum. Daarom het Henry hom dan van tyd tot tyd op hoogte gebring van plekke waarna hulle gaan kyk het, fotos ge-epos ens. My Broer is vermoënd en beleef dat God hom materieël seën, maar omdat hy ook dierbaar en vrygewig is, is hy in die verlede ongelukkig al deur Christene misbruik. Toe Neil vanjaar nie kon aangaan met “afstands-dissipelskap” nie, het ek net nie gemaklik gevoel dat ons hom meer betrek nie en het dus ook gevoel dat ons hom nie moet inlig tensy hy navraag doen nie - ek wou nie hê dat hy onder verpligting moes voel nie. Henry het egter nie dieselfde gevoel nie en na 'n amper drie-dae-lange ongemaklikheid tussen ons twee in Maart vanjaar, as gevolg van die vorige fotos van ‘n plaas wat hulle besoek het, wat hy ewe onskuldig vir Neil gestuur het, het ons ooreengekom dat ons nie die saak verder sou aanroer nie – en dat ons nie verder vir Neil oor die aangeleentheid sal inlig of nader nie. 

Terug by Saterdag. So is Henry vroeg uit die huis uit om ons voertuig se uitlaatstelsel te laat regmaak. Ek is “Pick 'n Pay” toe en is amper voortdurend met die Vader in gesprek. My gedagtes is heeltyd by die besluit wat die trusteelede by die vergadering om 2uur gaan moet neem.  (ons het 'n Trustee vergadering vir 2nm belê om 'n amptelike besluit te neem, nadat ons die trustees wat nie saam was om te gaan kyk na die plek nie, ingelig het oor alles. DL). In die motor oppad huis toe, vra ek die Here in 'n amper retoriese trant: “Waarom die wêreld dit so maklik vind om dinge te ontwikkel en tot stand te bring?” Toe kom die woord risiko by my op en is my belewenis dat die Here vir my sê dis omdat hulle bereid is om risiko’s te neem. Ek het besef dis God se stem. Onmiddelik het ek beleef dat ek nie van daardie woord hou nie... want ek is nie 'n persoon wat risikos neem nie. “Ja Here,” antwoord ek, “en ek is iemand wat ten alle koste risikos vermy!” Toe gaan die lig vir my op. Om die grond te kry, gaan daar 'n aanbod gemaak moet word, en dit sonder R600 000!!! ( R50 000 kan moontlik uit die trust kom.) Na my beskeie mening gaan dit beslis 'n risiko vereis van i e m a n d. Dis toe asof die Here sê: 

 “...en My Kind, dis presies hoekom ek jou deel hiervan gaan maak. Juis omdat ek weet hoe bang jy vir risikos is, kan ek seker wees dat jy net van my afhanklik gaan wees. Ek wil jou vertroue in my nog meer versterk. Die wêreld baseer hulle risikoneming op eiegewin en gierigheid. My kinders lewe in liefdevolle-gehoorsaamheid en wanneer hulle voel dat hulle wel in die geloof moet optree deur 'n risiko te neem, dan is die basis, vertroue in My en dan strek dit tot my veheerliking.”   

Nou is ek gereed om deel uit te maak van die risiko; om te doen wat ookal ons kan om by te dra om die transaksie moontlik te maak. Ek het geweet dis die implikasie - tot so 'n buitengewone mate dat indien dit nodig sou wees dat ons ons spaargeld of ons huisverband beskikbaar moet stel, ek dit sou kon doen, sonder twyfel. Die Here het met Sy woorde aan my rondom risiko, 'n bereidwilligheid in my hart geskep om 'n risiko vir Hom en die uitbreiding van Sy koninkryk te neem. Dit alleen is 'n wonderwerk. 

Terug by die huis gekom, gee ek terugvoer oor 'n koppie tee aan 'n “mede-dissipel -vriendin”, wat ook belangstel in wat rondom die retraitesentrum gebeur. Tussendeur groet Henry, want die manne moet vergader en hy’s amper laat. Ek vertel haar van die plek wat ons besoek het, van my gesprekke met die Here rondom 'n vliesie en risiko. Sy ken vir Neil en stem volkome saam dat ons nie vir hom moet nader nie – geensins nie. Sy is egter heeltemal geskok dat ek 'n vliesie voor die Here gelê het. Maar 'n oplossing het sy ook nie. 

Toe gebeur daar 'n RAMP. Emil, ons seun van 12, het per ongeluk 'n beker tee oor Henry se skootrekenaar omgestamp. Die rekenaar was aan – alles in die sleutelbord ingeloop! Wat en hoe nou gemaak? Henry het einde April sy werk by die Universiteit bedank en sederdien werk hy vir homself - ALLES is op die laptop. Dis hoe Henry ons brood en botter verdien... en as die harde skyf geaffekteer is? 

Emil is ontroosbaar en my vriendin en haar twee kinders vlug sodat ek 'n bietjie ramp-beheer kan toepas. Kan maar net die rekenaar omkeer sodat al die tee kan uit syfer... die “Kitchen Tea” sal ek maar oorslaan en... wag en weer wonder oor nog implikasies; ander implikasies.  

Twyfel sluip in my gedagtes rond rondom die retraitesentrum. Twee ure van afwagting. Twee l-a-n-g ure van afwagting. So kom Henry terug – stralend en opgewonde. (Die trustees het intussen 'n voorstel van Henry aanvaar, dat ons sy swaer sal nader vir 'n lening om die grond te kan koop. Ons het nie geweet van Karen en Henry se ooreenkoms om nie langer vir Neil hieroor te nader nie en Henry self het skooon vergeet dat dit sy ooreenkoms met Karen was - DL). Ek lei hom ewe diplomaties maar doelbewus weg van sy studeerkamer na ons sitkamer. Hy bly staan, maar ek dring daarop aan dat hy eers moet deel rondom hulle besluit. Niksvermoedend vertel hy kortliks dat hulle eenstemmigheid het en voortgaan met die aanbod en sê hy wil gou 'n e-pos gaan skryf...

Die man is haastig. Ek vra nie eers vir wie nie en lig hom in dat hy eers weer moet sit, want hy kan dit nie doen nie. Ewe ongeërg wil hy weet hoekom dan nou nie – hoe kan ek hom so wil voorskryf / wat weet ek dan nou!?  Ek vertel hom toe van sy skootrekenaar en die koppie tee.  

Die arme man was stom. Hy het net geluister, niks gevra nie, die skade bekyk en ten spyte van die rugby (die Bokke teen die Rose) dadelik aan die werk gespring om te probeer red wat daar te redde is. Die rekenaar is aan, maar die sleutelbord reageer nie. Hy bly onrustig; vroetel met sy selfoon, kyk weer of hy nie die laptop aan die gang kan kry nie en is op en af en in en uit die TV kamer.  

Na 'n advertensie breek kom hy weer sit en met 'n volslae uitdrukking van ongeloof deel hy my mee dat hy die foto’s wat hy by Deon afgelaai het, verloor het toe hy dit op sy ou-stadige rekenaar wou aflaai. (Henry het intussen probeer om die brief aan Neil op sy ou rekenaar te skryf - DL). Dis net weg! Dis ongehoord, Henry wat goed op 'n rekenaar verloor – “onmoontlik”, sê die kinders. Maar dis net weg! Ek het lanklaas vir Henry so moedeloos gesien, moedeloos van hulpeloosheid. Ek wil hom troos soos nog nooit voorheen nie – hy stel glad nie belang in troos of enigiets wat hom kan laat beter voel nie! Die man het 'n groot probleem...En so gaan slaap ons teen 10h00. 

Sondagoggend breek aan. Tien oor sewe skrik ons wakker. Dankie tog vir 'n nuwe dag en 'n nuwe begin. Henry bring vir my koffie en sê hy wil met my gesels oor iets, en stel voor ons moet by die see gaan stap. Onmiddellik wil ek weet waaroor, want ek het 'n dringende behoefte om die vorige dag se gebeure deur te praat met hom – ek moet perspektief kry. So kom dit toe aan die lig, dat hy na kerk weer met Deon sal vergader om terugvoer te gee oor Neil, (hiervan was ek natuurlik glad nie bewus nie!). Hy erken dat na 'n lang, onrustige nag, hy teenoor my moet bely dat al die gebeure van die afgelope 24 uur, ondanks sy intensies om vir Neil te nader oor die aanbod om by te dra tot die retraite sentrum, alles daar-op dui dat die Here nie wil hê dat hy self vir Neil moet nader nie. Selfs toe hy voor slapenstyd 'n laaste desperate poging wou aanwend om tog maar 'n e-pos of ‘n SMS te stuur, het hy onder die diep indruk gekom dat hy dit moet los. Hy het daar en dan ook die rekenaar afgeskakel en die e-pos wat hy begin skryf het gekanselleer. Dis asof die Here sy hande afgekap het. Al wou hy iets doen, kon hy nie want al sy pogings en planne is “gesaboteer”. MAGTELOOSHEID. 'n Slegte gevoel veral vir 'n man. Hy gee die desperate saak oor aan die Here – met ernstige bedenkinge of die Vader nie ons volledig wil weerhou van die benadering nie – en tog was daar nog steeds in sy binneste die hoop dat God ‘n uitweg sal vind.

Here, as dit U wil is dat Neil betrokke raak – sal U maar vir Hom vra...miskien dat hy bel voordat ons vergader in die oggend ...al wonder ek of dit nie te veel gevra is nie....en ja Here, U wil is tog belangriker” – was sy gebed. 

So kon ek hom toe van my belewenisse vertel - die vlies en die risiko en dat ek glo dat die Here van ons hierin vra om bereid te wees om 'n risikote neem. Henry beaam dat hy aan my wou voorstel dat ons moet oorweeg presies dit wat die Here my alreeds voor gewillig gemaak het – spaargeld en/of ons huisverband te vergroot om die lening te kan hanteer. 

Geen argument of twis rondom Neil nie. Perspektief en vrede het ons eintlik baie vinnig gekry, saam gekry – binne 'n halfuur. Henry maak 'n voorstel: “Kom ons gesels verder langs die see, want Nugget (die hond) trippel opgewonde en ongeduldig rond. Soos wat Henry die duvet oopgooi om uit die bed te klim, lui die telefoon. Ek borsel tande. Henry sê hy gaan nie nou antwoord nie, want dis Ouma en hy het nie nou tyd vir lank gesels nie. “Nee, jy moet antwoord,” sê ek, “dis dalk Deon.” Dis op die kop 07h50. 

Toe is dit ...Neil!  

Henry raak bleek. Ons het sekerlik 'n maand en 'n half laas met hom gesels.

In my gedagte skryf ek dit dadelik af as toeval, en wys nog so ewe vir Henry vinger om stil te bly oor die retraitesentrum. My oë het hom ook duidelik herinner aan ons ooreenkoms en hy knik begrypend terwyl hy gesels. So tel ek, net om te verseker dat Henry nie in die versoeking kom nie, die gehoorbuis in 'n ander vertrek op en groet my broer spontaan. Hy is bly ek “chip in” want hy het van my gedroom, maar dit was nie 'n aangename droom nie (hy het drie-uur die oggend wakker geskrik – daarna die droom gehad).

Nadat ons uitgesels was, het ek gegroet omdat hy ook bewus was dat hy ons net betyds tuis gevang het en ook omdat ek geen verwagting van die gesprek gehad het nie. Miskien soveel so, dat ek selfs eintlik die gesprek wou kortknip deur te groet. Nadat ek gou die kombuis aan die kant gemaak het, hoor ek die twee is steeds in gesprek en gaan weer kamer toe. Nou lig Henry hom in oor wat sy nuwe werk alles behels. Met gebaretaal vra ek of hy iets laat blyk het oor die plaas,  skud hy sy kop ontkennend. Terwyl ek hoed op die kop na die tyd op my arm wys, hoor ek darem Henry maak reg om af te sluit...Ek maak vensters toe en sluit amper ongeduldig die deure. Net om terug te kom en te hoor dat daar nou weer 'n nuwe gesprek begin is... 

Neil:  Sê my gou eers, wat van die retraite?

Henry is bleek, hy kyk verstar na my, sy bene lam, sy mond droog.

Ek waarsku weer met my oë...

Henry:   Wat bedoel jy Neil? 

Neil het einde verlede jaar belangestel om vanjaar die tweede jaar retraite in Augustus by te woon.

Neil:  Nee, ek bedoel wat van die Retraitesentrum?

Henry sluk. Hy vertel van Vrydag en dat dit lyk asof ons die regte plek gekry het en dat ons 'n opsie geneem het  om die plek te koop.

Neil:  Onthou Henry wat ek laas vir jou gesê het. My aanbod staan steeds. Die geld wat ek gaan kry uit die verkoop van die grond in Botswana gaan vir die Retraitesentrum wat julle beoog. 

Henry snik en sy trane vloei onbedaarlik.

So gaan tel ek baie haastig weer anderkant op. Neil verstaan nie wat hier nou aan die gebeur is nie en Henry, diep bewus van wat hier aan die gebeur is kan vir die oomblik nie verder praat nie en ek weet nie wat Neil sê nie... maar wat het mens meer nodig om die regte afleiding te maak... ek sien die vliesie... 

Nee, het Neil my verseker, hy het gevra oor die vordering met die Retraitesentrum – nie Henry nie. 

Toe ons saam hom volledig kon inlig rondom al die gebeure en ook  toelig hoe die Here met ons besig was, kon hy sien dat hy onwetend 'n instrument in die hand van die Here is. Hy hoor tog die Here se stem – dit wat hy so oor twyfel. Op hierdie manier kon Neil beleef hoe God op wonderbaarlike wyses werk deur Sy Kinders te betrek by dit waarmee Hy besig is. Wat 'n voorreg! Wat 'n belewenis!  

Met die soete telefoniese afsluiting deur ons drie saam in gebed was dit 10 uur. 

En wat is die bedrag wat Neil aan ons volgens skatting sal gee?

Een punt twee miljoen rand ... dubbel die bedrag wat benodig word! Die woorde eggo in my gemoed: “...deurdat ek voorsien, My Kind.” 

God voorsien in oorvloed!!

 

Hier is my joernaal inskrywing op 05-06-2007, toe ek tyd neem om tot verhaal te kom: 

 

V●E●R●W●O●N●D●E●R●I●N●G

... oor en oor en oor en oor

staan ek VERWONDERD voor U, my Here en my God. 

Dankie vir die voorreg wat ek het om te beleef 

  • dat U werk...
  • hoe U werk...
  • dat U werkinge voortduur...
  • dat U werkinge nog nooit opgehou het nie...
  • dat U werkinge met die mens ook nooit sal ophou nie...
  • dat U werking seën inhou – oorvloedige seën...
  • dat U werking vreugde bring – vreugde bring wat borrel...
  • dat U werking my vervul met verwondering
  • dat U USELF deur U werking aan my openbaar...
  • dat u werking my hart aanraak met die brandende begeerte om bo alles gehoorsaam te wees aan U wil – nie meer my eie nie...
  • dat U werking werklik is...
  • dat U werking seker is...
  • dat U werking in ons lewens vervulling bied...diep vervulling
  • dat U werking binne die uitbreiding van U koninkryk WONDERBAARLIK is...
  • dat U werking volmaak is...
  • dat U werking U verheerlik...

Mag U werk en werking binne die tot standkoming van die “Shama Retraitesentrum” 'n WERK VAN WONDER bly...

Mag mense se V●E●R●W●O●N●D●E●R●I●N●G oor wie U is en hoe U met ons werk  t  o  e  n  e  e  m    in die dae,maande, jare en eeue wat kom totdat u terugkeer aarde toe. 

Here, my Dierbare Vader, dankie dat ek deel kan wees van hierdie 

      W O N D E R W E R K 

      ( werking +verwondering = wonderwerk ) 

Ek bid Vader dat U Gees hierdie passie altyd vurig in my aan die brand sal hou.

Tot so ver Karen se getuienis. 

Ons het dan ook hierdie gebeure baie duidelik as bevestiging beleef dat dit die plek is wat die Here wou hê dat ons moes koop. Die geld was nie dadelik beskikbaar nie, omdat daar eers 'n plaas in Botswana verkoop moes word. Nogtans het ons besluit om wel 'n aanbod te maak en in die geloof voort te gaan. Daardie Woensdagaand het ek toe hierdie ontwikkelinge met een van my dissipelskapgroepe ('n groep jongmense so in hulle middel dertigs) gedeel. Ek het ook genoem dat die geld wat belowe is nie dadelik beskikbaar is nie en gevra dat hulle saam met ons sal bid dat die Here intussentyd sal voorsien deur 'n lening. Na die tyd het ek soos gewoonlik huis toe gery. Net toe ek by die huis gekom en voor die hek stilgehou het, het my selfoon gelui. Dit was een van die groeplede se vrou wat gebel het. Hulle was ook nog op pad huis toe. Sy het my meegedeel dat haar man gesê het dat hulle huisverband klaar afgelos is en ons kan daarvan gebruik maak as 'n lening totdat ons die beloofde geld ontvang!  Ek het vir haar gevra wat die bedrag van die verband was, waarop sy geantwoord het: R650 000!  

Weereens was ek maar net stom van verbasing oor die Here se tydsberekening en voorsiening. Ons kon dus dadelik voortgaan met die kooptransaksie. Dieselfde vrou wat my gebel het, was op daardie stadium 'n prokureur in Port Elizabeth wat oordragte doen. Sy het dan ook vir ons die hele kooptransaksie hanteer. Natuurlik moes ons maandeliks die paaiment van die lening aan die Lener terugbetaal. Ook daarin het die Here wonderbaarlik voorsien. As Trustees het ons onderneem om elkeen R500 per maand (minimum) hiervoor by te dra. Na ek hieroor gebid het, het ek ook 'n paar ander mense wat ek weet baie positief was oor die hele projek genader en gevra of hulle daaroor sal bid en dit sal oorweeg om ook R500 per maand by te dra. Die meeste van hulle het dadelik geantwoord dat dit nie nodig was om eers hieroor te gaan bid nie. Hulle is alreeds seker dat dit iets was wat hulle wou doen. So het dan gebeur dat ons binne 'n week verseker was van 'n inkomste van min of meer R14 000 per maad, waar ons in werklikheid net R7000 nodig gehad het vir die paaiement op die lening. 

Kort hierna het ons weer die plek gaan besoek. Die keer met die wete dat die grond bestem is vir die langverwagte retraite sentrum. Ons het die stukkie grond behoorlik gefynkam en platgeloop en saam gedroom oor die moontlikhede. Dit is toe met hierdie tweede besoek wat van ons op 'n heuningbynes afgekom het teen die kranse, waar die heuning  letterlik uit die nes geloop het.

 Gedurende die naweek van 25-26 Augustus het ons trustees en 'n paar vriende ’n toewydingsdiens op Shama gehou. Op 29 Augustus 2007 het ons gehoor dat die eiendom amptelik in die naam van die trust oorgeplaas is.

Daar was egter nog 'n kinkel in die kabel. Neil wat die geld aan ons belowe het, was nie die alleeneienaar van die grond in Botswana nie. Hy het 'n mede-eienaar gehad wat sendingwerk in Botswana gedoen het. Die mede-eienaar (Len van Onselen) is my eie bloedneef (my Pa se suster se seun) en hy wou niks hoor van die grond verkoop nie. Hy wou dit graag vir hulle sendingwerk daar gebruik. Daarvoor moes hy egter eers aansoek doen vir hersonering. 

Neil was dus baie verleë daaroor, omdat hy baie graag die geld so gou moontlik wou beskikbaar maak. Op grond van alles wat ons alreeds beleef het, het ons hom egter gerusgestel en gesê dat hy glad nie sleg hoef te voel oor alles nie. Hierdie is God se projek en ons het alreeds oor en oor beleef dat God alles op die regte tyd voorsien. 

Die storie gaan te lank word as ek alles vertel wat daarna gebeur het. In kort kom dit daarop neer dat ons in die geloof begin bou het. Ons moes bou want daar was net een klein kliphuisie met twee klein slaapkamers, een leefkamer en klein kombuisie, met stort en toiltet in. Daar was ook nog nie krag en water in die gebou nie. Die loodgieterwerk was darem al in plek. 

Ons het begin met die bou van 9 slaapkamers, 2 badkamers en toiltte met 'n goeie kombuis. Dit het ongeveer nog R650 000 gekos. Dit was egter nooit weer nodig om nog geld te leen nie. Soos wat ons gebou het, het die Here alles voorsien en kon ons kontant werk. Die meeste donasies het anoniem ingekom. Dit was net bietjie meer as vier jaar, toe was die grond afbetaal, plus die nuwe geboutjie was in gebruik. Ons eerste retraite waar ons die nuwe gebou gebruik het, was in 2010. 

Dit was net 'n dag of twee nadat ek die laaste betaling op die lening betaal het, toe het my neef uit Botswana gebel. Hy het gevra wat is ons rekeningnommer. Baie verbaas wou ek weet hoekom hy dit nodig het. Hy het vertel dat hulle nie geslaag het met hulle aansoek om hersonering van die grond nie en moes verkoop. Net so dag of twee later het hy toe die miljoen rand in ons rekening oorbetaal. Ons het toe alreeds geboue met 11 kamers, 3 badkamers, 'n leefvertrek waarin ons voorlopig bymekaar kom en 'n goeie kombuis. Alles was klaar afbetaal en ons het miljoen rand in die bank gehad. So ons kon dadelik voortgaan met die bou van die hoofgebou, 'n huisie vir my (waar ek as voltydse retraiteleier kom bly het) 'n waskamer en stoorkamer, sowel as 'n afdak vir ten minste 2 voertuie. Die fotos op ons webblad wys so iets van die geboue wat opgerig is.

Dit is dan die verhaal van Shama so ver die ons oorsprong aangaan. Dit wat in die jare hierna gevolg het en wat die Here oor die jare alles in mense se lewens hier gedoen het (en steeds doen), is in werklikheid die groter storie van Shama. Dit sou egter onmoontlik wees om dit ook alles in die beperkte ruimte te deel. 

Al wat ons oor en oor van bewus geword het, is dat God werklik voorsien waar Hy 'n visie in sy kinders se harte wakker gemaak het. Al die lof, eer en aanbidding kom Hom toe, soos dit was in die begin, so is dit nou en so sal dit vir altyd wees!